Verootmoediging

 

VOLKSVEROOTMOEDIGINGSAKSIE - Lees eers hele dokument deur,

en vul dan die vorm in.

Ondersteunersinligting - >> Na AAN-LYN vorm

 

Inhoudsopgawe vir

DIE VOLKSVEROOTMOEDIGINGSAKSIE
 

 

Klik op enige opskrif hieronder om na die betrokke seksie in die dokument te gaan

1. Die OPROEP
    1.1 Die ontstaan en oorhoofse doel
    1.2 Volksverootmoediging


2.
ONTSTAAN EN DOEL VAN DIE VVA
    2.1 Die ontstaan en oorhoofse doel
    2.2 Doelstellings van die aksie
    2.3 Voorgestelde aksieplan
    2.4 Hoe gaan ons verder op streeksvlak?


3. VOLKSVEROOTMOEDIGING

Inhoudsopgawe:
   3.1. Die doel van dié oproep
   3.2. Die Voorwoord
   3.3. Die nood van ons volk
   3.4. Wat beteken volksverootmoediging?
   3.5. Terug na die godsvrugtige gesin
   3.6. Hoe gaan ons verder?


4. ONDERSTEUNINGSINLIGTING

Ondersteuningsinligting van u en u gesin word benodig om die proses verder te voer.
Vul asseblief gevraagde inligting AAN-LYN in, en dien in. >> Na AAN-LYN VORM

 
 

 LAAI DOKUMENTE AF

Laai die volledige dokument af in PDF formaat. - 359KB

 

___________________________

 

Laai bogenoemde dokument

af in korter dele:

 

 

PDF laai nie af in sommige "Browsers" nie. Regs klik skakel hierbo

en "Save As"

Adobe Reader moet op u rekenaar geinstalleer wees om die dokument te kan lees

Indien u nie Adobe Reader op u rekenaar het nie, laai dit GRATIS hier af.

>> 

____________________

 

 

 

OPROEP!
 

ONTWAAK
CHRISTEN
­VOLKSGENOTE!!!
DIT IS LAAT IN DIE DAG……………

 

VOLKSVEROOTMOEDIGINGSAKSIE

 

Hierdie bundel bestaan uit drie dokumente, tewete –

.                       • die OPROEP;

.                       • die Ontstaan en oorhoofse doel;

.                       • Volksverootmoediging,

 

wat elektronies beskikbaar is en wat afsonderlik of gesamentlik vermeerder en versprei mag word.

 

 

>> Terug na bo

(1) OPROEP
ONTWAAK
CHRISTEN
­VOLKSGENOTE!!!
DIT IS LAAT IN DIE DAG………………

ONS VOLK HET VAN GOD EN SY WOORD AFGEDWAAL.

ONS ONDERWERP ONS NIE MEER AAN CHRISTUS EN DIE HEILIGE GEES SE LEIDING NIE.  

LEES DEUT. 28. ONS LEEF NIE MEER JESUS CHRISTUS SE EVANGELIE NIE,

DAAROM BEVIND ONS AS VOLK ONS IN NOOD EN IS ONS VAN GOD VERLATE

EN LOOP DIE GEVAAR OM TOT NIET TE GAAN.

 

 

WAT STAAN ONS TE DOEN?

 

DAAR IS SLEGS EEN ANTWOORD!
TERUG NA DIE GOD VAN DIE BYBEL EN VAN BLOEDRIVIER.

 

HOE GAAN ONS DIT DOEN?

 

DEUR WARE BEROU EN VEROOTMOEDIGING VOOR GOD VIR ONS PERSOON­LIKE,

MAAR OOK VERAL VIR DIE SONDES VAN ONS VOLK.

U WORD DRINGEND OPGEROEP OM NOU IN TE SKAKEL BY ‘N BEWEGING VAN CHRISTEN-AFRIKANERS. ONS BEDE IS DAT ONS VOLK OP DIÉ WYSE WEER SAL OPSTAAN EN GODWELBEHAAGLIK SAL LEEF.

 

INDIEN U NOG MEER DOKUMENTE VERLANG –

kan u dit hier aflaai

 


>> Terug na bo 

(2) VOLKSVEROOTMOEDIGINGSAKSIE

 


 

DIE ONTSTAANSPROSES EN OORHOOFSE DOEL

 

Verskeie volksgenote en volksorganisasies het hulle al dikwels oor die verslegtende toestand van die volk wat die meeste volksterreine betref, uitgespreek en hierdie besorgdheid word steeds uitgespreek. Daar bestaan in die verband verskillende menings oor die oorsaak, hoewel ‘n redelik algemene siening bestaan dat die hoofoorsaak vir die omstandighede waarin die volk hom bevind die gevolg is van die wegbeweeg van erkende Bybelse beginsels en die afdwaling van ‘n opregte en toegewyde wandel met die God van die Bybel. In die verband word daar dikwels deur verteenwoordigers van organisasies na volksverootmoediging verwys en bestaan daar sodanige behoefte in die harte van baie volksgenote.

Om aan hierdie behoefte uiting te gee, het ‘n paar volksgenote byeengekom om die saak te bespreek. Die Bybelse opdrag en uitnodiging tot verootmoediging het hierdie volksgenote oortuig en gemotiveer dat ‘n aksie vir volksverootmoediging van stapel gestuur moet word. ‘n Beplanningsvergadering waartydens sekere uitgangspunte en benaderings oorweeg is en waarheen mense in hul persoonlike hoedanigheid, maar wel ook komende uit verskillende volksorganisasies genooi is, is op 13 Mei 2006 in Pretoria gehou. Die voorgelegde uitgangspunte en benaderings is in beginsel aanvaar en ‘n taakgroep is aangewys om daaraan beslag te gee en om ‘n grondslag en oorhoofse doel te formuleer vir oorweging deur ‘n tweede, moontlike/hopelik breëre, beplanningsvergadering.

 

Die grondslag, oorhoofse doel, benadering en uitgangspunte kan soos volg omskryf word:

 

  • Die grondslag van die aksie is die onfeilbare Woord van God.

  • Die oorhoofse doel is om tot eer van God Drie-enig, gegrond op ons Reformatories-Protestantse erfenis, volksgenote in verootmoediging te verenig. Dit moet gedoen word met die oog op roepingsvervulling en gevolglik die nakoming van ons verbonds­verpligtinge, (maw. ons geloftes aan die Drie-enige God), en daaruit voortvloeiend, ons maatskaplike verpligtinge.

  • Verootmoediging is ‘n deurlopende Bybelse opdrag en die uitvoering daarvan lê ewe-seer op die skouers van almal wat hulle daarmee vereenselwig.

  • Volksverootmoediging vereis dat volksgenote in nederige erkentlikheid teenoor God Drie-enig deur gebed, belydenis en aflegging van ons sondes en die toon van ‘n blymoedige opbouende gesindheid, opnuut ons algehele afhanklikheid van Hom verklaar, ons aan Sy wil onderwerp en bid dat Sy wil sal geskied. Dit is ook ‘n verklar­ing van menslike onmag en God Drie-enig se almag. Dit mag nooit ‘n gemeenplaas of blote modebegrip of ‘n middel tot ‘n doel wees nie. Dit moet sigbaar gestalte vind in volksgenote se lewenshandel en –wandel. (Kyk ook na dokument oor ,,Volksve­rootmoediging’’ vir breër omskrywing.)

  • Die volk van wie gepraat word is daardie volk wat deur verskeie geloftes (soos die Bloedriviergelofte) aan God Drie-enig en aan mekaar verbind is en wat oorgegaan het in volksplanting en republiekstigting in die Boererepublieke van die negentiende eeu. Ons volk het ‘n eie unieke geskiedenis waarmee volksgenote hulle met deernis, liefde, dankbaarheid, verantwoordelikheid en trots vereenselwig. Daar is kragtige bande wat volksgenote aan mekaar bind. Ons volk is ’n geroepe volk in die wêreld en ons glo dat ons ons roeping die beste sou kon vervul indien ons ’n vrye volk onder ’n volkseie Christelike owerheid kon wees. Ons volk het ‘n eie moedertaal en hunker na ‘n bedeling waar ons, ons eie kan besit, bewoon, bewerk, beheer en beveilig. Ons weet nie of dit God se wil is dat so ‘n bedeling nog kan verwesenlik nie, maar dit moet ons nie verhinder om daarvoor te bid nie.

  • ‘n Benadering van verdraagsaamheid is nodig met betrekking tot begrippe, omskry­wings en sienings wat dikwels tot verdeeldheid in volksgeledere aanleiding gee.

 

Die doelstellings van die aksie is om:

 

  1. Die Godgewilde samelewingsverbande, met besondere klem op die Christelike gesin, te herstel en/of te versterk.

  2. Gesinshoofde in te lig, te motiveer en te ondersteun betreffende die toenemende bedreiging van die Christelike huwelik, die instandhouding van doop-, huweliks- en ander beloftes, die versterking van die gesin en die herstel van die huisaltaar.

  3. Die samewerking van die instellings/organisasies en veral kerklike gemeentes wat bogenoemde grondslag en doel onderskryf, te verkry.

  4. Familiebande te herstel.

  5. Volksgenote veral deur geloftefeeskomitees te wys op die noodsaaklikheid van die nakoming van die Bloedrivier-gelofte.

  6. Volksgenote te wys op die noodsaaklikheid van die instandhouding van die Dag van die Here deur dit heilig te hou.

  7.  Aan volksgenote ‘n volkstuiste te bied wat as gevolg van volksvreemde invloede, en die wegbeweeg van Bybelse waarhede, afgedwaal het.

  8. Betrokke te wees en hulp en steun te verleen met die herstel van die gemeentes/ volksgemeenskappe.

 

Aangesien daar talle organisasies op verskillende volksterreine bedrywig is, is die oogmerk met die verootmoedigingsaksie nie om ’n nuwe organisasie te begin nie, maar om die samewerking van alle volksinstellings/organisasies en veral kerklike gemeentes wat bogenoemde grondslag en doel onderskryf, te verkry. ’n Tweede byeenkoms is op 14 Oktober 2006 gehou waarheen persone uit of namens sodanige instansies uitgenooi is en waartydens die grondslag, oorhoofse doel, benaderings en uitgangspunte bevestig is.

 

Ter bereiking van die doel en doelstellings word die volgende aksieplan voorgestel:

 

  1. Die landswye vestiging van verteenwoordigende volksverootmoedigende aksiegroepe wat op ’n sterk gedesentraliseerde streeksbasis funksioneer.

  2. Bogenoemde volksverootmoedigende aksiegroepe stel ‘n sentrale koördineringskomitee met ’n roterende voorsitter saam.

  3. Stel ‘n lys van gelowige godsmanne saam, wie vir verootmoedigingsboodskappe, ondersteuning en leiding genader kan word, waar sodanige behoefte bestaan.

  4. Vestig ‘n administrasie, verkieslik in samewerking/vennootskap met bestaande organisasiestrukture.

  5. Verkryging van fondse om bedryfskoste te dek gepaard met die stigting van ’n trustfonds vir aanwending op maatskaplike terrein.

  6. Die aanwys van ‘n persoon (persone) as skakelbeampte/segsman om na behoefte inligting beskikbaar te stel.

Om die aksie identifiseerbaar te maak is daar besluit op ‘n naam/leuse/embleem.

 

Koördinering van die aksie sal ophou sodra die oorhoofse doel bereik is, aangesien uitbouing dan natuurlikerwys en onder leiding van die Heilige Gees moet voortgaan.

 

Hoe gaan ons verder op streeksvlak?

 

Indien u met die grondslag en doelstellings in beginsel saamstem, word u genooi om betrokke te raak deur -

 

  1. ’n persoonlike besluit te neem dat u en u gesin tot ware verootmoediging voor God Drie-enig sal kom, dit sal uitleef en dat u in u binnekamer sodanige onderneming op skrif sal stel en in veilige bewaring sal hou as ’n private en persoonlike ooreenkoms tussen u en God;

  2. ten minste twee ander gesinne te nader om dieselfde te doen en dat hulle op hulle beurt weer twee ander gesinne sal betrek en dat almal wat betrek word van die nodige pamflette voorsien word;

  3. kontak te maak met Christen-Afrikanerinstellings, kerke en andere in u gemeenskap ten einde hierdie saak onder hulle bekend te stel en ondersteuning te kry;

  4. toe te sien dat alle name en adresse en ander toepaslike besonderhede soos tele­foonnommers ens. van persone/gesinne wat ingeskakel het, aan VVA, Posbus 1964, Faerie Glen, 0043, telefoon (na ure): 012-8038903, loopfoon (alle ure en vir boodskappe): 082-4584945, faks: 086-6288114 en vonkposadres: vva@bidsaam.co.za deur te stuur, ten einde ’n register van Christen-Afrikaners daar te stel met die doel van inskakeling en onderlinge kontak en die verlening van bystand;

  5. te besin oor watter finansiële bydrae u tot hierdie aksie kan maak en op watter ba­sis.

 Hierdie aksie word nie van bo-af bestuur en gedryf nie. Dit moet ’n spontane beweging van oortuigde Christen-Afrikaners wees wat God wil dien, tot Sy eer wil leef en sodoende deel vorm van ’n Godvresende volk.

 

>> Terug na bo

 

 

 

(3) VOLKSVEROOTMOEDIGINGSAKSIE

 


 

VOLKSVEROOTMOEDIGING

 

 INHOUDSOPGAWE

1.    Die doel met dié oproep

2.    Die voorwoord

3.    Die nood van ons volk

4.    Wat beteken volksverootmoediging?

5.    Terug na die godvrugtige gesin

6.    Hoe gaan ons verder?

 

DIE DOEL MET DIÉ OPROEP

 

Volksverootmoediging word meestal net met die lippe gedoen sonder dat daar enigsins ’n hartsverandering plaasvind. Hierdie verootmoedigingsdaad moet nie van bo af afgeforseer word nie, maar moet spontaan van onder af, vanuit die verbondsgesin voltrek word. Die doel met die dokumentjie is dus om baie ernstig tot elke individu en gesin te appelleer om na vore te tree as die leiers in elke gemeenskap. Daar moet besef word dat niemand anders vir u en vir my die kastaiings uit die vuur gaan krap nie. U moet as individu en gesin die inisiatief neem en in u gemeenskap die boodskap van verootmoediging uitdra.

 

Daar moet ook daarna gestrewe word om onsself en ons volksgenote bewus te maak van toestande in ons land en hoedanig ons as ’n volk daaraan blootgestel is. Daar is mense wat so vas aan die slaap gesus word deur die propagandamedia dat hulle nie ’n idee het van wat aan die gebeur is nie.

 

As ons iets wil doen moet ons nie wag tot dit te laat is nie, maar betyds hand aan die ploeg slaan. Die doel is dus om op ’n eerlike manier die waarheid aan die lig te laat tree deur inligting te verstrek wat die propaganda en die leuens sal ontmasker. Mense glo dit nie, maar die vervolging van die ware Christene word al feller in die “New Age” bestel.(1)

 

Die doel is verder om ons volk se verbondsverpligtinge weer ernstig onder die aandag van ons mense te bring. Ons het ons roeping as volk versaak. Sodra ons weer ons roeping verstaan sal ons weer insig kry, moed kry, weer eendragtig saambou en saamwerk aan ons volksideale.

 

Die laaste doel is om weer aan ons verslae volksgenote, veral ons jongmense, hoop te gee. Alles is nie verlore nie mits ons na God Drie-enig en na Sy Woord wil luister en Sy wil doen. Die grootste diens wat aan die anti-christelike magte bewys kan word, is om niks te doen nie, want dit kom neer op gelate aanvaarding van dit wat plaasvind.

 

Almal wat uit innerlike oortuiging bymekaar behoort moet saamgevoeg word en daarvoor moet u en ek ons met groot erns beywer.

 

U moet as gesin, familie en vriendekring die inisiatief neem en in u gemeenskap die boodskap van verootmoediging uitdra.

 

(1) “New Age” of Nuwe Era en Nuwe Wêreldorde hang in baie opsigte saam. ’n Nuwe tyd, die sg. Akwariustyd, het nou aangebreek waar die Antichris sterk op die voorgrond sal tree.

 

VOORWOORD

 

Die wêreld wil so graag hê dat ons net losstaande idividue moet wees wat maklik beïnvloed en op sleeptou geneem kan word. Die Here weet egter van beter, daarom het hy gesinne en volke verordineer. Die gesin is soos ’n hawe waar daar skuiling teen storms gebied word. In die godvrugtige gesin word die gesinslede die geleentheid gebied om oor hulle gevoelens, bekommernisse, probleme en selfs hartsgeheime te praat. In die gesin kan hulle hulp kry, bemoediging ondervind, gesteun word om die koers in die lewe te behou.

 

Daar kan verskillende soorte gesinne onderskei word soos o.a. die oppervlakkige gesin waar die vergadertyd min is en die gesprekke baie oppervlakkig. Dit gaan hoofsaaklik oor korttermynvrae soos: waar is my tas?, hoe laat ry ons?, wie neem my na die rugby toe? ens. Die rustigheid rondom die etenstafel bestaan nie, want daar word baie min rustig saam geëet. Die televisie is altyd aangeskakel en dié vorm eintlik die derde maar ook die belangrikste ouer.

 

Daar bestaan in die tweede plek die formele gesin. Die gesprekke is van ’n bietjie hoër gehalte, maar daar is nie juis kans om oor persoonlike sake te gesels nie. Daar word oor die weer gepraat, die belangrikste nuus by die skool of die werk word meegedeel, daar word oor sport en sportuitslae gepraat, melding word miskien gemaak van ’n moeilike of onregverdige onderwyser, maar veel verder kom die gesprekke nie. Die formele verhouding in die gesin laat nie toe dat oor die gesinslede se gevoelens gepraat word nie.

 

In die derde plek is daar die godvrugtige gesin wat ruimte en tyd maak vir vrugbare gesinskommunikasie. In die gesin bestaan daar vertroue tussen die gesinslede en kan hulle vertroulike gesprekke voer sonder enige vrees vir kritiek. Die gesinsatmosfeer is soos ’n rustige oase in ’n verraderlike wêreld. Daar bestaan tyd en daar word ruimte gemaak om oor alles te praat en die geloofsaspek word beklemtoon. Geloofskommunikasie bind die gesin saam op ’n wyse wat nie in die ander gesinstipes moontlik is nie.

 

Ons wil pleit dat alle gesinne godvrugtige gesinne moet word. Ons wil pleit dat die vader saam met sy gesin Die Bybel as die Woord van God sal bestudeer, dat die hele aangeleentheid van verootmoediging oordink en dat ’n vasberade besluit geneem sal word om die gesinsaksie en die volksverootmoedigingspoging uit te dra na ander gesinne.

 

Daar word so dikwels die versugting uitgespreek na leiers en nou word elke gesinshoof saam met sy gesin die leiers. Hulle bewerk saam ’n kragtige daad van verootmoediging en voer dan die gedagte vrugbaar verder in die gemeenskap. Op die manier word die verbondsgesin steen vir steen ingemessel in die volksgebou.

 

Hierdie bouwerk op dié Rots is onverganklik, hierdie bouwerk op dié Rots het ook ewigheidsbetekenis. Ons moet oorgaan tot die daad en nie langer net praat en met slap hande na die nood van ons volk kyk nie. Ons moet soos Josua van ouds sê: “Maar ek en my huis, ons sal die Here dien”. (Jos. 24:15).

 

DIE NOOD VAN ONS VOLK

 

Daar is uiteenlopende opvattings oor ’n aangeleentheid soos hierdie. Sommige van ons volksgenote is vaagweg bewus van die probleme wat ons ondervind, maar weet nie mooi wat aan die wortel daarvan lê nie.

 

Aangeleenthede wat die nood van ons volk aandui

 

i. Daar word gepraat van regstellende aksie en die ingeboude diskriminasie teen blankes sodat baie duisende die land moet verlaat om elders ’n heenkome te vind.
ii. Die Afrikaner is so verdeeld dat hy geen faktor in die alledaagse politiek is nie, en die toestand word steeds ingewikkelder.
iii. Baie Afrikaners is oortuig daarvan dat transformasie noodsaaklik is, al weet hulle nie mooi wat dit beteken nie. Buitendien is daar, volgens hulle, nie die leiers wat hulle uit die onsekerheid kan help nie.
iv.

Daar is die grondherverdelingsprogram van die regering wat gepaard gaan met in­timidasie, wetgewing wat afskrik, plaasaanvalle en plaasmoorde.

v. Daar word vaagweg gepraat van korrupsie, wanbesteding en selfverryking, maar aan die ander kant is die ekonomie florerend en word mense ryk soos nog selde in die verlede. Daar word gemaklikheidshalwe verby die verarming van Afrikaners gekyk en die wat broodsgebrek het moet self sien om klaar te kom.
vi. Die veiligheidstelsel het so goed as in duie gestort, want misdaad, verkragting, aan­randings, roof en moord het met rasseskrede toegeneem sodat die R.S.A. met 60 moorde per dag die misdaadmekka in die wêreld geword het. Elkeen moet maar net toesien dat dit nie vir hom of haar tref nie al het 250,000 mense sedert 1994 geweld­dadig in die R.S.A. gesterf.
vii.

Op onderwysgebied is die posisie onrusbarend al dink die meeste ouers dat die toestand nie so erg is nie. Afrikaansmediumskole het van nagenoeg 3400 in 1994 afgeneem tot ’n skrale 800 in 2006.

 

Die stelsel bekend as Uitkomsgebaseerde Onderwys het ten doel om die Afrikanerkind se Christelike waardes te ondergrawe, om die Afrikaanse taal te ondermyn, om godsdiensgelykheid (sinkretisme) af te forseer, om sedelike verval te bewerkstellig (lewensoriëntering) en nog baie meer.

 

Op hierdie trant kan nog veelvoudig aangegaan word, maar die bedoeling is nie om vrees te wek nie. Daar sal selfs diegene wees wat beweer dat die toestand nie so noodhebbend is as wat voorgegee word nie. ’n Derglike houding het die destydse Admiraal Nelson met sy Britse vloot ook ingeneem toe hy die verkyker op sy blinde oog gesit het en beweer het dat hy geen gevaar sien nie. Daar is niemand so doof soos hy wat nie wil hoor en niemand so blind soos hy wat nie wil sien nie.

 

’n Duidelike insig in die ware toedrag van sake

 

Daar is egter ook diegene van ons volksgenote wat dieper dink, meer weet en reg verstaan waarom dinge so gebeur soos wat hierbo geskets is. Wat nie ’n skuldgevoel ontwikkel het omdat ons op die behoudende geloofspad gebly het nie. Hierdie gelowige Afrikaners is opreg bekommerd oor die koers wat vandag ingeslaan word op pad na ’n “New Age” bedeling, ’n Nuwe Wêreldorde, waarin alle grense tussen God Drie-enig en die afgode, tussen waarheid en leuen, tussen geloof en ongeloof, tussen sedelik en onsedelik uitgewis word.

 

Hierdie geloofsgenote verstaan wat met die leer van vermenging en verbastering beoog en bereik word, maar as gevolg van die geweldige mediamag, die helse krag van propaganda, kan hulle oënskynlik nie die volkswa in die regte rigting krink nie. Om hierdie rede besin hulle baie ernstig oor dié toedrag van sake. Hulle sien en ondervind alhoemeer die felle aanslae van die anti-christelike magte wat daarop bedag is om ons as verbondsvolk te vernietig. Hierdie planetariese aanslag word egter nie net teen ons volk geloods nie, maar teenoor alle ware Christene. “Through most of church history, persecution has been part of the normal Christian life. … When nations turn from truth to myth, persecution of nonconformists naturally replaces justice. The whole world is under the control of the evil one.” (Berit Kjos: Brave new schools, p.199)

 

Sonder om enigsins te oordryf, moet ons erken dat die oomblik van waarheid vir die ware gelowige aangebreek het.

 

Op soek na die wese van die probleem

 

Die probleme wat genoem is, kan nog aansienlik vermenigvuldig word, maar dit dien nie juis ’n doel nie, omdat dit maar net simptone van dieperliggende siektes is. Dit het geen nut om net by die simptome van dié siekte(s) stil te staan nie. Daar moet na die wese van die probleem, na die kern van die afwykings deurgedring word, want dis juis daar waar die regstelling, die korrektivering moet plaasvind.

 

Daar kan veral twee kernoorsake van die noodlottige verval van ons volk onderskei word, naamlik die omkering van die waardes, ook volkswaardes, in die eerste plek en die vervreemding van ons volk van sy ware identiteit. Ons gee baie kortliks aandag aan albei.

 

Die omkering van die Christelike waardes

 

Hierdie ondermyningshandeling kan met baie name genoem word soos o.a. waardeverskuiwing, waardeverplasing, waardevertroebeling, waardevernietiging, of waardeverduistering. In Engels word van “values clarification” gepraat.

 

Wat word daarmee bedoel?

 

Soos die vis water nodig het om te lewe so het die mens (kind) waardes nodig om as mens gereken te word. Nie slegs die velkleur nie, maar die waardes vorm die fundamentele verskil tussen volke en verskillende kulture.

 

  • Die verskille tussen behoudende en liberale Afrikaners word o.a. veroorsaak deur die verskillende interpretasies van die waardes en norme.

  • As kinders uit verskillende kulture, volke en geloofsoortuigings in dieselfde klaskamer geplaas word, ontstaan waardebotsings, waardekonflik en waardeverduistering en dit kan nooit goeie opvoeding genoem word nie.

  • Die mens (kind) vind betekenis, sin (meaning) in die lewe deur aan waardes inhoud te gee. Sonder waardes geen sin en sonder sin geen vrugbare lewe. Sonder sin,d.w.s. ’n sinlose lewe, gee aanleiding tot neuroses, afwykings, angs, depressie en selfs selfmoord.

Dink na oor bekende waardes soos waarheid, geregtigheid, regverdigheid, eerlikheid, goedheid, skoonheid, getrouheid, beleefdheid, verantwoordelikheid, oppassendheid. Die Christen verstaan onder waarheid die absolute bestaan van God Drie-enig. Die liberalis verstaan onder waarheid die relatiewe opvattings en beskouings van mense. Dit is die geval met elkeen van die waardes.

 

Hierby eindig die probleem nie, want daar is ook nog ’n verdere omkering van die waardes soos wat vandag in die globalistiese bestel(2)gebeur. Waarheid en leuen word deurmekaar geklits. Wat vir my waar is, is nie vir jou waar nie; wat vir my sedelik is, is nie vir jou sedelik nie, daar kan gepraat word van ’n waarderelativisme

 

Waardes word ook in die chaosbestel soos vandag op hulle kop gesit: lig word duisternis en duisternis word lig (So word Lucifer, die Verligte, die Ligtende Een baie aanvaarbaar voorgestel sodat baie agter hom aan loop). Die Bybel waarsku nie verniet teen hierdie omkering van die waardes nie: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, … (Jesaja 5:20)

 

Ons moet ten slotte wys op die resultaat van hierdie waarde-omkering, waardevertroebeling of waardeverduistering.

  • Nou weet niemand meer wat reg en wat verkeerd is nie en juis om hierdie rede wil en kan niemand iets DOEN nie. Die passiwiteit en onbetrokkenheid van mense, ook van ons volk, moet deels hier gesoek word.

  • Nou ontstaan daar ’n onderlinge getwis, tweedrag, onenigheid en botsende belange, want die waardes word verskillend geïnterpreteer.

  • Die kinders in die openbare skole se Christelike waardes, volkswaardes en sedelike waardes word op ’n openlike wyse ondergrawe en niemand, nie ouers, onderwysers of die meeste kerke doen iets aan die saak nie.

  • God Drie-enig en die afgode word nou in dieselfde verband genoem. Duisternis en lig vorm nou ’n eenheid, ’n vermenging.

Vervreemding van ons volksidentiteit

 

Net soos die profeet Hosea die volk Israel destyds gewaarsku het dat hulle ten gronde sal gaan weens ’n gebrek aan kennis (Hosea 4:6) net so moet ons volk ook vandag gewaarsku word.

 

(2) Wêreldbestel. Afgelei van “globe”, aarde, ook globaal, allesinsluitend

 

Die kennis waarvan hier ter sprake is, is identiteitskennis, verbondskennis. As God Drie-enig, die Vader van die verbond, verlaat word, word die gevaar geloop om ook die verbondsidentiteit te verloor en te verloën. Die verbondskennis voer tot roepingskennis en identiteitskennis.

 

Die vyfde gebod is eweneens ’n identiteitsgebod : “Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee.” Hierin word die afstammingslyn, die verbondslyn bevestig. Hou vas aan jou identiteit, bewaar jou identiteit want God het dit aan jou en jou volk gegee. Omgekeerd: as jy jou identiteit, jou verbondsidentiteit verraai en verlaat, haal jy jou die toorn van God op die hals. Hierdie waarheid geld ook vir die verbondsvolk.

 

Die Afrikanervolk het ver afgedwaal van sy verbondsbeloftes, verbondsroeping en verbondskarakter, daarom gaan dit met ons sleg, daarom het die Here ons verlaat. Ons is huurlinge in ons eie land, ons taal word misken en vertrap, baie van ons jongmense moet in vreemde lande ’n heenkome gaan soek, ongelowiges regeer oor ons. Ons volk is verleë, moedeloos, daadloos, en toekomsloos omdat ons van ons verbondsidentiteit vervreemd geraak het.

 

Die stem van die Here praat vandag hard met ons volk net soos met Israel destyds:

 

“Onderhou dan die woorde van hierdie verbond en volbring dit, sodat julle voorspoedig kan uitvoer alles wat julle doen.” (Deut. 29:9)

 

“Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.” (1 Pet. 2:9)

 

Wat moet ons doen? Ons moet as volk ons met groot erns verootmoedig voor die heilige aangesig van ons troue Verbondsgod.

 

In die volgende gedeelte word die idee van volksverootmoediging ontleed en verantwoord.

 

WAT BETEKEN VOLKSVEROOTMOEDIGING?

 

1. Begripsvertroebeling

 

Begrippe soos vrede, hervorming, demokrasie en ook verootmoediging word doelbewus verdraai en misleidend gebruik om sodoende te verwar en te mislei.

 

  • Verootmoediging het niks te make met die belydenis van die sogenaamde “sondes” van apartheid nie.

.2. Wat beteken ootmoed?

  • In Nederlands bestaan die woord “ootje” wat nul of niks beteken.

  • Ootmoed vra dat jy tot die besef sal kom dat jy niks (‘n nul) voor God is.

  • Ootmoed is die teenoorgestelde van hoogmoed.

  • Ootmoed beteken om in nederigheid neer te buig voor die Here.

  • Ootmoed bring ’n besef van eie onvermoë teenoor die almag van God.

  • Ootmoed bring‘n besef vanjou nood aan versoening met God deur Jesus Christus.

.3. Die daad van verootmoediging is ongewild

  • Baie min literatuur oor verootmoediging.

  • Die wêreld is magsbewus en wil van verootmoediging niks weet nie.

  • Sommige kerklike instansies gebruik verootmoediging net in eie belang.

  • Die mondige mens het hovaardig geword en wilvan verootmoediging niks weet nie.

.4. Volksverootmoediging

  • Die Here is tans besig om ons volk terug te snoei tot by die nulpunt. Dink aan Gideon as voorbeeld.

  • Volksverootmoediging beteken ’n terugkeer na God - ’n hartsverandering by ons volk.

  • 'n Dag van verootmoediging is meestal misplaas en nie genoeg nie.

  • Ons volk moet as volk weer laag voor die Here buig.

4.1. Identiteit en verbondsidentiteit

 

  • God skep elke wese met ’n eie identiteit -aan daardie identiteit moet getrou gebly word.

  • Die Afrikanervolk het ’n verbondsidentiteit. Omdat hierdie identiteit verloën is, gaan dit sleg met ons volk.

  • By die doop of toewyding aan die Here word die kind ingelei en ingelyf in die genadeverbond.

  • Die verbondsouers, verbondsgesinne groei uit tot die verbondsvolk.

  • Die verbondsvolk word herinner aan die verbondsbeloftes deur die onderhouding van en gehoorsaamheid aan die verbondseëls soos die Wet van die Here (Tien Gebooie), die heilige nagmaal, die heilige doop en die onderhouding van die dag van die Here.

 

4.2     Die verbondspad van die Afrikaner

  • God het in sy groot genade die Afrikanervolk self op die verbondspad ge­plaas.

  • Reeds op 6 April 1654 het Jan van Riebeeck, die volksplanter, ’n gelofte aan God gemaak: (Die Van Riebeeck Gelofte is beskikbaar)

1. Hy maak melding van God se seënende hand.
2. Hy verwys na ’n dankdag, ’n dag van gebed.
3.

Hy beklemtoon dat die weldade van God aan die nageslag vertel moet word. As die volksplanting nie deur Protestante onderneem was nie, maar deur Rooms Katolieke sou daar geen Afrikanervolk met ’n identiteit ont­staan het nie.

  • By Bloedrivier op 16 Desember 1838 is die gemeente, die klein volkskern tot geloftevolk gelouter.

  • Weer eens word melding gemaak van ’n dankdag, ’n geloftedag, van die groot dade van die Here en die dade van God moet aan die nageslag, die gelofte­volk, oorvertel word.

  • Die grondwet van die Republiek van die O.V.S. maak eweneens melding van die ewige verbond wat met God gesluit is.

  • Die herbevestiging van die Gelofte by Paardekraal 16 Desember 1880 be­klemtoon weer eens die verbond met God en dat die erfpand van ons vaders aan ons kinders oorgedra moet word.

  • Die Afrikanervolk is volk van God, maar hierdie hoë roeping is deur ons verraai en het sodoende op ’n dwaalweg beland.

  • Deur volksverootmoediging moet ons as volk weer terugkeer na God, daar is geen ander weg of uitkoms vir ons volk nie.

Saamgevat kan ons sê dat die Afrikanervolk deur God Drie-enig in aansyn geroep en verordineer is om ’n verbondsvolk, ’n volk met ’n besondere roeping, te wees. In die lig hiervan en die besondere geskiedenis van ons volk word ons deur kragtige bande met deernis, dankbaarheid en trots aan mekaar gebind.

 

5. Waar moet ons begin?

 

Ons moet by onsself begin. Ons moet in die eerste plek ons eie, individuele sondes met groot erns voor

God Drie-enig bely. As individue en ook in gesinsverband moet ons by God Drie-enig om genade en

vergifnis pleit vir sondes soos o.a.:

  • Die onbetrokkenheid en verwaarlosing van die saak van die Here. Ons lees nie meer Die Bybel en ons bid nie meer nie.

  • Ons is ongehoorsaam aan die wil en die opdragte van die Here.

  • Die verwaarlosing van die gesinslewe en gesinslede. Kinders word sonder meer in die hande van ’n goddelose onderwysstelsel gelaat.

  • Die gees van materialisme. Geldmaak en ryk word geniet die hoogste prioriteit en in die proses ontsien ons niks en niemand nie.

  • Die gees van gemaksug en selfsug (wil nie meer kinders hê nie en lewer die kinders aan volksvreemde bediendes uit.)

  • Die gees van twis en tweedrag. Weier om met geloofsgenote saam te werk in die opbouing van God en ons volk se saak.

  • ’n Gees van hoogmoedigheid i.p.v. ootmoedigheid.

Hierdie is ’n saak van persoonlike aard en die voorafgaande is slegs enkele voor­beelde.

 

In die tweede plek moet elkeen kragdadig saamwerk om weer die verbondsvolk, waartoe God ons geroep het, op koers te kry. In hierdie verband moet ons ons gruwe­like volksondes bely en weer ernstig aan ons roeping as volk dink:

 

  • Ons laat as volk sienderoë toe dat God Drie-enig met ander afgode gelyk gestel word en ons kinders word in die openbare skole aan hierdie sinkretistiese bena­dering onderwerp.

  • Die Bileamsleer van verbastering en vermenging word nie net in ons skole beoefen nie, maar word ook op alle terreine ongehinderd uitgedra en gepromoveer sonder enige weerstand.

  • Van die dag van die Here word ’n handelsdag, sportdag, plesierdag, koerantdag ens. gemaak en ons volksgenote doen lustig daaraan mee.

  • Uit elke twee huwelike beland een in die egskeidingshof met die hartseer en ontwrigting wat daarmee vir die kindertjies gepaard gaan.

  • Ons is as volk verward, onkundig en verdeeld en niemand is daaroor bekommerd dat ons op die pad van selfvernietiging voortploeter nie.

  • Euwels soos partyskappe, twis en tweedrag tier welig in die volkstuin en ons is hoogs tevrede met onsself.

  • Ons leiers verraai ons en ons verraai mekaar elke dag vir ’n bietjie eer, geldelike gewin of ’n bietjie status in die oë van die vyand.

Ons hoef nie verder op hierdie onheilstrant voort te gaan nie, want elke gelowige volksgenoot is diep bewus van die haglike toestand. Het dit nie tyd geword dat ons onsself, ons gesinne en ons volk voor God stel in diepe ootmoed nie?

 

6. Die vrug van volksverootmoediging

  • As ons verder op die sondige pad voortploeter sal God ons volk in sy toorn ver­nietig.

  • As ons ons verootmoedig en terugkeer na ons volksidentiteit sal God ons in sy groot genade aansien.  “Hulle het hul verootmoedig: Ek sal hulle nie vernietig nie …” (2 Kron, 12:7-8) Die Here sê self dat as Hy droogtes, sprinkane en pes oor die volk aankondig: “… en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig, bekeer, dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” (2 Kron. 7:13-14)

Ons moet die Here op sy Woord neem en glo wat hy belowe. Die Here is besig om hard met ons volk te praat. Sal ons ons nie verootmoedig en na Sy stem luister nie?

 

Samevatting

 

Volksverootmoediging vereis dus dat volksgenote in nederige erkentlikheid teenoor God Drie-enig deur gebed, belydenis en aflegging van ons sondes en die toon van ’n blymoedige opbouende gesindheid, opnuut ons algehele afhanklikheid van Hom verklaar, ons aan Sy wil onderwerp en dat Sy wil sal geskied. Dit is ook ’n verklaring van menslike onmag en God Drie-enig se almag. Dit mag nooit ’n gemeenplaas of blote modebegrip of ’n middel tot ’n doel wees nie. Dit moet sigbaar gestalte vind in volksgenote se lewenshandel en wandel om aan volksgenote, wat as gevolg van volksvreemde invloede en die wegbeweeg van Bybelse waarhede afgedwaal het, ’n volkstuiste te bied. Dit sluit die herstel van die huisaltaar, familiebande, volksge-meenskappe/gemeentes en die volksaltare in.

 

TERUG NA DIE GODVRUGTIGE GESIN

 

1. Die werke en dade moet getuig van verootmoediging

 

As ons volk ons wil verootmoedig sal dit gepaard moet gaan met ’n leefwyse wat van verootmoediging getuig. Die geloof sonder die werke kan ons nie regverdig maak nie. Luister wat sê Jakobus in dié verband: “Wat baat dit my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Die geloof kan hom tog nie red nie?” (Jak. 2:14)

 

2. Die verootmoedigingsaksie voltrek in die gesin

 

Natuurlik word elke individu, ook die kerk en by uitstek die volk met verootmoediging gekonfronteer, maar daar is geen instansie wat so volmaak toegerus is as die gesin om die verootmoedigingshandeling uit te voer nie. God het self die gesin verordineer en dit so bepaal dat daar nie minder as 4 gebooie is wat die gesin en die gesinsbesittings beskerm nie.

 

Die vyfde gebod

“Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee”.

*Dit is ’n gebod met ’n belofte.
*Gesag wat so belangrik in die volk en die samelewing is, word in die gesin vas
­gelê.
 

Die sewende gebod

“Jy mag nie egbreek nie”.

Die godvrugtige gesin bestaan uit ’n man, ’n vrou en ’n kind of kinders wat in gehoor­saamheid aan God en sy gebooie lewe. Egbreek is vir die Here ’n gruwel.

 

Die agste gebod

“Jy mag nie steel nie”.

Die besittings van die gesin word ook uit die hand van God ontvang. Die materiële voorspoed van die gesin en die volk hang af van die gehoorsaamheid aan die wette en gebooie van God. (Deut. 7:12-16)

 

Die tiende gebod

“Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie …”

Begeerte is net die begin van gierigheid en roofsug daarom moet hierdie handelinge in die kiem gesmoor word.

 

3. Die strukturering van die gesin

 

Die gesagsposisie van die vader

 

Baie duidelik word die gesagsverhouding in die gesin deur God bepaal: “Christus is die hoof van elke man, en die man is die hoof van die vrou en God die hoof van Christus”. (1 Kor. 11:3)

  • Die vader, as die hoof van die gesin, moet die gesag van Christus aanvaar en sy gesin in gehoorsaamheid na Christus lei.

  • Die vader moet sy gesin onderrig uit die Woord van God, aan hulle ’n voorbeeld stel van gesagsgehoorsaamheid.

  • Vandag heers vroue, oor ons volk omdat die gesinshoof die onderrig van sy gesin verwaarloos het. (Jesaja 3:12)

  • Die verhouding van die vader tot die kind moet een van liefde en belangstelling wees. “En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here”. (Ef. 6:4)

Die man is die hoof van die vrou

 

In die Woord van God word die wonderlike verhouding wat daar tussen man en vrou behoort te bestaan so treffend beskryf.

  • Die man moet sy vrou liefhê (Efesiërs 5:25)

  • Die vrou moet aan die man onderdanig wees (Efesiërs 5:22)

  • As die verhouding tusen man en vrou ingerig word volgens die Woord van die Here heers daar harmonie, liefde, eensgesindheid en vrede.

Word daar egter van die geëmansipeerde beskouing uitgegaan, heers daar wedy­wering, onenigheid, twis en disharmonie wat aanleiding gee tot egskeiding en die egskeidingsyfer in ons volksgeledere is skrikwekkend hoog. Lees ook Spreuke 31:10-31 om ’n beeld van die deugsame vrou te vind.

 

4. Die gesin vorm ’n mikrostruktuur in die volkshuishouding

 

In die godvrugtige gesin word die besondere verhouding tussen man en vrou, tussen ouers en kinders en tussen gesin en Christus vasgelê, maar verder ook die verhoud­ing tussen die gesin, die gemeente, die skool, die volk en die ekonomiese wêreld.

 

Die gesin en die kerk of gemeente

By die doop word die verbondskind of volwassene in die genadeverbond ingelei. (Ons word gedoop in die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees). Die Vader betuig en verseël aan ons dat hy ’n ewige genadeverbond met ons oprig. Die dopel­ing en verbondsvolk moet aan God Drie-enig gehoorsaam wees en Hom aanhang en liefhê. In die verbondsonderrig moet die kind, soos in die gesin, kennis maak met die werke van God, die verbondsgenade hoog ag en leer om Hom in waardigheid te aanbid.

 

Die gesin en die skool

Die verbondsouers moet toesien dat onder andere die verbondskind in die skool in harmonie met die gesinswaardes opgevoed word. Die verbondsouers het immers voor die gemeente aan God belowe om die kindjie te onderrig en te laat onderrig (skool) in die vrese van die Here. Vandag word die multigeloof en ongeloof in die openbare skole gepropageer. Leerareas in die nuwe leerplanne bevat vorme van afgodery, bygeloof, okkultisme, sinkretisme en die aftakeling van alle Christelike waardes en norme. Van die sedelike verval in die vak Lewensoriëntering word nie eens gepraat nie, want tot in die st. 8 wiskunde handboek word van vigs en die bedenklike toestand daar rondom melding gemaak. Ouers staan skynbaar onkundig en onverskillig teenoor die resultate en invloede van Uitkomsgebaseerde Onderwys. Ons behoort as gesinne baie ernstig na dié omstandighede te kyk.

 

Die gesin en die ekonomie

Die kind moet tuis die basiese beginsels van die ekonomie geleer word. Wat is die funksie van geld en waarom moet versorgend en spaarsaam gelewe word. ’n Gees van geldgierigheid en materialisme moet ten alle koste afgewys word.

 

5. Die godvrugtige gesin in ’n gebroke wêreld

 

Die gesin word vandag van alle kante verdag gemaak en ontwrig. Die baie probleme op die weg van die godvrugtige gesin moet teengestaan word soos o.a.

  • Die afwesige moeder.

  • Die afwesige vader.

  • Die vermenging van die verskillende kulture.

  • Die verderflike invloed wat die wangebruik van die media tegnologie soos die televisie, rekenaar, ens. kan hê.

  • Die revolusionêre tydsgees.

Die gesin moet ten alle koste beskerm word so lank ons nog toegelaat word om dit te doen.
 

6. Die heidense staat wil ook die gesin domineer

 

As Christenouers aanvaar ons dit as vanselfsprekend dat ons ons kinders kan op­voed in die vrese van die Here. Net soos wat lyfstraf al verbied is, sal ouers ook verbied word om Christelike waardes aan hul kinders te leer soos wat in die V.S.A. aan die gebeur is. “…, training your children according to biblical truth is equated with child abuse … the old beliefs are handicaps which block their evolution into a global citizen …” (Berit Kjos Brave new schools, P.161)

 

Ons as Christene is onkundig en onbewus van die geweldige aanslag wat teen die gesin geloods word. Waarom sal ons nie tot God bid en ons verootmoedig en vra dat Hy ons oë oopmaak nie?

 

7. Gesinsherstel of volksuitwissing

 

As die gesin in toenemende mate ontwrig en geskend word, is dit ook met die Afri­kanervolk verby want die kinders van vandag is die volk van môre. Elke gesinshoof moet tot besinning kom en opnuut sy vaderlike pligte opneem en getrou uitvoer. Verootmoediging moet by die gesin begin en daar moet nie na ander, die soge­naamde leiers, gekyk word wat die kastaiings uit die vuur moet krap nie. As u aan die gesinsheropleidingsprogram en die verootmoedigingsaksie wil deelneem moet u ’n doelbewuste besluit neem en die daad by die woord voeg.

 

HOE GAAN ONS VERDER?

 

Ons glo en vertrou dat dit wat u gelees en oordink het u sal aanvuur om daadwerklik op te tree. Pres. Brand het nie verniet gesê: Alles sal regkom as elkeen sy/haar plig doen. Ons wil graag met u en u gesin kennis maak ten einde u aan die sorg van ons Hemelse Vader op te dra. Ons kan moontlik ’n register van godvrugtige gesinne saamstel, ten einde inligting aan u te verstrek en gedagtes met mekaar uit te ruil wat landswyd gebruik kan word.

 

 

Opgestel deur prof. J.J. Pienaar in opdrag van die Volksverootmoedigingsaksie.

 

__oOo__

>> Terug na bo

 

 

VOLKSVEROOTMOEDIGINGSAKSIE

Ondersteunersinligting - >> Na AAN-LYN vorm,

vul in en stuur aan na ons Komitee

 

 

Stuur u menings aan:

 

 V V A, Posbus 1964, Faerie Glen, 0043. 

 

vonkposadres:
Telefoonnommer (na ure): 012-8038903
Loopfoonnommer (alle ure en vir boodskappe): 082-4584945
Faksnommer: 086-6288114

Webwerf: www.bidsaam.co.za

Bankbesonderhede van die Volksverootmoedigingsaksie:
Bank: ABSA
Rekeningnaam: Volksverootmoedigingsaksie
Rekeningnommer: 917 484 3636
Rekeningtipe: Aktief spaar 

 

 

Na bo

 

 

 

Afstanddoening-Disclaimer

 

Vir beste resultate bekyk met 800 x 600 piksel resolusie

Kopiereg © 2003 - 2011 Smalladds.com. 

Hierdie webwerf is ontwerp en word onderhou deur Smalladds.com. Stuur 'n e-pos aan ons Webmeester met enige kommentaar.